Savanne

Groot dele van die Krugerwildtuin word deur tipiese savanne bedek.

Savanne is 'n tropiese of subtropiese plantegroeitipe wat uit 'n mengsel van hoofsaaklik gras en bome bestaan en soms as 'n oorgangstipe tussen suiwer grasveld en woud beskou word. Grasse is gewoonlik die dominante plantgroep.

Die reënval is betreklik laag en die meeste val in een of twee bepaalde reënseisoene, met een of twee droë seisoene tussenin. Die delikate balans tussen gras en bome word hoofsaaklik deur klimaatsfaktore bepaal, maar brand en oorbeweiding het ook 'n invloed daarop. Savanne is 'n tropiese en subtropiese plantegroeitipe (biotoop) wat veral in Afrika baie goed ontwikkel is, maar ook in Suid-Amerika, Australië en Indië aangetref word.

Die dominante plantgroep is gras, maar benewens die kruidstratum van grasse is 'n struikstratum en 'n boomstratum ook kenmerkend van savannas. Soms word suiwer grasveld ook as 'n soort savanne beskou. 'n Groot deel van Afrika noord en veral suid van die ewenaar bestaan uit savanne wat wissel van byna suiwer grasveld tot 'n betreklik digte bosveld.

In Suid-Afrika word die woord bosveld dikwels as 'n sinoniem vir savanne, maar meer bepaald vir die Transvaalse savanne, gebruik. Ook in Suid-Amerika word heelwat savanne aangetref en daar word 'n onderskeid getref tussen die sogenaamde Llanos in die noorde, meestal op moerasagtige grond, en die campo's in die suide. Die ander twee gebiede waar savanne aangetref word, is Australië en Indië, maar in veral Indië het baie van die savanne deur die toedoen van die mens ontstaan.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search