Antieke Rome

Volgens legende is Rome gestig in 753 v.C. deur Romulus en Remus, wat deur 'n wolfteef grootgemaak sou gewees het.
Die uitbreiding van die Romeinse Ryk tussen 510 v.C. en 480 n.C.██ Romeinse Republiek ██ Romeinse Ryk ██ Wes-Romeinse Ryk ██ Oos-Romeinse Ryk
rmn-military-header.png

Stigting van Rome
Romeinse monargie
Romeinse Republiek
Romeinse Keiserryk
Wes-Romeinse Ryk
Oos-Romeinse Ryk

Antieke Rome was 'n beskawing wat uit 'n klein landelike gemeenskap ontstaan het, wat reeds in die 10de eeu v.C. op die Italiaanse skiereiland gevestig is. Die beskawing was oorwegend langs die Middellandse See geleë, met die stad Rome as fokuspunt, en het tot een van die grootste ryke in die antieke wêreld ontwikkel.[1]

In die eeue-lange bestaan daarvan, het die Romeinse beskawing ontwikkel van 'n monargie tot 'n oligargiese republiek tot 'n toenemend outokratiese ryk. Dit sou heerskappy voer in Suidwestelike Europa, Suidoostelike Europa (die Balkan-skiereiland) en die Mediterreense streek na stelselmatige verowering en inkorporering.

Geteister deur interne onstabiliteit en aangeval deur verskeie migrerende volke, het die westelike deel van die ryk, insluitend Italië, Hispanië, Gallië, Britannië en Africa in die 5de eeu opgebreek in verskeie onafhanklike koninkryke. Hierdie verbrokkeling word deur geskiedkundiges aangedui as die breekpunt tussen die Antieke tydperk en die middeleeuse tydvak van die "Donkereeue".

Die Oos-Romeinse Ryk wat vanuit Konstantinopel regeer is, nádat Diocletianus die Ryk in 286 n.C. verdeel het, en wat saamgestel was uit Griekeland, die Balkans, Klein-Asië, Sirië en Egipte, het hierdie krisis oorleef. Ten spyte van die latere verlies van Sirië en Egipte, wat aan die Arabies-Islamitiese ryk afgestaan is, het die Oos-Romeinse Ryk vir 'n verdere millennium standgehou, tot die oorblyfsels uiteindelik geannekseer is deur die ontluikende Turkse Ottomaanse Ryk. Hierdie oostelike, Christen- en middeleeuse era van die ryk word gewoonlik die Bisantynse Ryk genoem deur historici, alhoewel die Bisantynse nasie hulself gesien het as 'n voortsetting van die antieke Romeinse tradisie.

Die Romeinse beskawing word dikwels onder die "klassieke oudheid" geresorteer, saam met antieke Griekeland, 'n beskawing wat, tesame met die Etruskerse beskawing en die vele ander beskawings wat deur die Romeine verower en geïnkorporeer is, heelwat van die kultuur van antieke Rome geïnspireer het. Antieke Rome het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van regering, wetgewing, oorlogvoering, kuns, literatuur, argitektuur, tegnologie, religie en die tale in die Westerse wêreld, en die geskiedenis daarvan het 'n blywende grondige invloed op die hedendaagse wêreld.

  1. Chris Scarre, The Penguin Historical Atlas of Ancient Rome (Londen: Penguin Books, 1995).

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search