Atlantiese Oseaan

Die Atlantiese Oseaan
Die Aarde se vyf Oseane
Die eksklusiewe ekonomiese sone in die Atlantiese en Indiese Oseane

Die Atlantiese Oseaan is die wêreld se tweede grootste oseaan. Dit beslaan ongeveer een vyfde van die aarde se oppervlakte en lê tussen die ooskus van Noord- en Suid-Amerika en die weskus van Europa en Afrika.[1] Die oseaan se naam, van Griekse mitologie verleen, beteken "See van Atlas".

Die oseaan beslaan 'n verlengde, S-vormige kom wat in 'n noord-suid-rigting strek en is verdeel in die Noord-Atlantiese en Suid-Atlantiese oseane deur ewenaar-teëstrome by omtrent 8° Noord breedteligging. Dit word aan die weste afgesper deur Noord- en Suid-Amerika en Europa en Afrika aan die ooste. Verder word die Atlantiese Oseaan aan die Stille Oseaan verbind deur die Arktiese Oseaan aan die noorde en die Drakedeurgang, wat tussen Antarktika en Kaap Hoorn lê, aan die suide. 'n Mensgemaakte verbinding na die Stille Oseaan word deur die Panamakanaal verskaf. Aan die ooste word die skeidslyn tussen die Atlantiese en Indiese Oseaan getrek op die 20° Oos lengtelyn. Die skeiding tussen die Atlantiese en Arktiese Oseaan word deur 'n lyn vanaf Groenland tot die suidelike Svalbard tot die noordelike Noorweë gevorm.

Die Atlantiese Oseaan beslaan sowat 20% van die aarde se oppervlak en is die tweede grootste oseaan ter wêreld (naas die Stille Oseaan). Met die aanliggende seë beslaan dit 'n oppervlakte van sowat 106 450 000 km² sonder hulle het dit 'n oppervlakte van 82 362 000 km². Die landoppervlakte wat in die Atlantiese Oseaan dreineer is vier keer dié van die Stille of Indiese oseane. Die volume van die Atlantiese Oseaan met die aanliggende seë is 354 700 000 km³ en 323 600 000 km³ sonder hulle.

Die gemiddelde diepte van die oseaan, tesame met die aanliggende seë, is 3332 m sonder hulle is dit 3926 m. Die grootste diepte, 8 605 m (28 232 voet), is in die Puerto Rico-trog. Die wydte van die oseaan wissel van 2 848 km tussen Brasilië en Liberië, tot omtrent 4 830 km tussen die Verenigde State en Noord-Afrika.

Die oseaan het onreëlmatige kuslyne wat deur baie baaie, golwe en seë ingekeep word. Hulle sluit die Karibiese See, die Golf van Meksiko, die Golf van Sint-Lourens, die Middellandse See, die Swartsee, die Noordsee, die Oossee en die Noorweë-Groenland See in. Eilande in die oseaan sluit in Svalbard, Groenland, Ysland, Rockall, Groot-Brittanje, Ierland, Fernando de Noronha, die Asore, die Madeira-eilande, die Kanariese Eilande, die Kaap-Verdiese Eilande, Bermuda, Wes-Indië, Ascension-eiland, Sint Helena, Tristan da Cunha, die Falkland-eilande en Suid-Georgië en die Suidelike Sandwicheilande.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search