Germane

'n Uitbeelding in Charlotte Mary Yonge se Young Folks' History of Rome wat die Gote voorstel
Germaanse Þing (regerende vergadering), geteken volgens die beskrywing in 'n kolom van Marcus Aurelius, 193 n.C.

Die Germane is 'n historiese versameling Indo-Europeessprekende etniese groepe wat uit Noord-Europa afkomstig was en geïdentifiseer word deur hulle gebruik van Germaanse tale wat uit 'n gemeenskaplike Germaanse taal ontstaan het in die voor-Romeinse Ystertydperk. Op grond van taalkundige en kulturele kenmerke word gemeen die Germane was nou verwant aan ander Indo-Europese groepe soos die Kelte, Slawiërs, Grieke en die Romaanssprekende groepe om die Middellandse See asook aan ander meer afgeleë groepe.

Migrerende Germaanse stamme het in die laat oudheid en vroeë Middeleeue oor die hele Europa versprei. Germaanse tale het dominant geword aan die Romeinse grens in wat vandag Oostenryk, Duitsland, Noord-België en Engeland is. In die res van die (westelike) Romeinse provinsies het die Germaanse immigrante uiteindelik Latynse (Romaanse) dialekte aangeneem. Benewens die Romeinse wêreld het die Germane die hele Skandinawië bevolk, insluitend Ysland in die middel van die Noord-Atlantiese Oseaan. Germaanse Wikings het ook Groenland ontdek en teen omstreeks 1000 n.C. voet aan wal gesit in Noord-Amerika.

Al die Germane is uiteindelik gekersten; terselfdertyd het elemente van die ou Germaanse godsdienste die Christendom beïnvloed. Die Germane het 'n belangrike rol in die skep van die Middeleeuse Europese wêreld geskep namate die Romeinse Ryk tot 'n einde gekom het. In die laat oudheid het 'n aantal groot Germaanse volke uit die verskillende Germaanse stamme ontstaan wat deur Europa en aangrensende gebiede getrek het. Van hulle, soos die Franke, het nes die antieke Romeine ryke gestig wat die res van die geskiedenis drasties beïnvloed het. Die versmelting van die Romeins-Griekse streke met dié van die Germane het gelei tot die ontwikkeling van 'n gemeenskaplike Europese identiteit, geskiedenis en kultuur wat oor taalgrense heen gestrek het en wat die basis vorm van die moderne Westerse kultuur.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search