Goue Horde

Goue Horde
Oeloes van Djotsji
Flag
1240 – 1502 Flag
Ligging of Goue Horde
Ligging of Goue Horde
Die gebied van die Goue Horde (groen), omstreeks 1300.
Hoofstad Sarai
Taal/Tale Mongools
Turkse tale
Godsdiens Sjamanisme
later Islam
Regering Monargie
Historiese tydperk Nuwe Tyd
 - Stigting 1240
 - Verbrokkeling 1502
Oppervlakte
 - 1310 6 000 000 km2
2 316 613 sq mi

Die Goue Horde, wat plaaslik Oloeg Oeloes (letterlik "Groot Staat" in Turkse tale) genoem is,[1] was oorspronklik 'n Mongoolse en later 'n geturkiseerde khanaat wat in die 13de eeu gestig is as die noordwestelike deel van die Mongoolse Ryk.[2] Met die verbrokkeling van die Mongoolse Ryk ná 1259 het dit 'n aparte khanaat geword. Dit is ook bekend as die Kiptjakse Khanaat of die Oeloes van Djotsji, en het die vroeëre, minder georganiseerde Koemaans-Kiptjakse konfederasie vervang.

Ná die dood van Batoe Khan (die stigter van die Goue Horde) in 1255 het die dinastie nog 'n volle eeu lank floreer, tot in 1359, hoewel die intriges van die Nogai in die laat 1920's tot 'n gedeeltelike burgeroorlog gelei het. Die horde se militêre mag het tydens die bewind van Oesbek Khan (1312-1341), wat die Islamitiese geloof aangeneem het, 'n hoogtepunt bereik. Die grondgebied van die Goue Horde het tydens sy hoogtepunt gestrek van Siberië en Sentraal-Asië tot dele van Oos-Europa van die Oeralgebergte tot die Donaurivier in die weste, en van die Swart- tot die Kaspiese See in die suide, terwyl dit ook gegrens het aan die Kaukasusberge en die gebied van die Mongoolse dinastie bekend as die Il-khanaat.[3]

Die khanaat het van 1359 af groot interne politieke wanorde begin ervaar voordat dit vir 'n kort ruk herenig het. Kort ná die inval in 1396 deur Timoer, stigter van die Timoeridiese Ryk, het die Goue Horde in kleiner Tataarse khanate verdeel, waarvan die mag geleidelik afgeneem het. Aan die begin van die 15de eeu het die Goue Horde uitmekaar begin val. Teen 1466 is dit dikwels net die "Groot Horde" genoem. Op sy grondgebied het talle hoofsaaklik Turkssprekende khanate ontstaan. Dié interne onenigheid het die noordelike vasalstaat Moskowië in staat gestel om eindelik in 1480 van die "Tataarse Juk" ontslae te raak. Die laaste oorblyfsels van die Goue Horde, die Krimse en Kasakse Khanaat, het onderskeidelik tot 1783 en 1847 bestaan.

  1. "The History and Culture of the Golden Horde (Room 6)". The State Hermitage Museum, Sankt Petersburg. Besoek op 21 Maart 2020.
  2. Perrie, Maureen, red. (2006). The Cambridge History of Russia: Volume 1, From Early Rus' to 1689. Cambridge University Press. p. 130. ISBN 978-0-521-81227-6.
  3. "Golden Horde". Encyclopædia Britannica. (2007). 

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search