Rooi

#FF0000

Rooi is 'n kleur wat lê by die laagste frekwensies van lig wat deur die menslike oog onderskei kan word. Rooi lig het 'n golflengte van ongeveer 700 nanometer. Rooi, wat die langste golflengte het, word die minste gebreek (refraksie of ligbreking) en violet die meeste.

Suurstofhoudende bloed is rooi weens die hemoglobien wat daarin bevat is. Rooi lig word eerste deur seewater geabsorbeer, sodat baie visse en ander ongewerwelde seediere wat helderrooi vir mense voorkom, in werklikheid swart in hulle natuurlike omgewing voorkom.

Rooi is 'n toevoegende primêre kleur, komplementêr tot siaan. Dit was eers beskou as 'n aftrekkende primêre kleur, en word steeds soms so beskryf in nie-wetenskaplike literatuur. Dit is wel nou bekend dat die kleure siaan, magenta en geel nader aan die ware primêre kleure is wat deur die oog onderskei kan word, en word in moderne kleurdrukwerk gebruik. In die RGB-kleurmodel wat deur TV-stelle en rekenaarskerms gebruik word is rooi een van die drie kanale, genaamd R.

Laer frekwensies word infrarooi, of verre rooi, genoem.

'n Rooi filter wat in swart-en-wit fotografie gebruik word, verskerp die kontras in meeste tonele. Byvoorbeeld, wanneer dit saam met 'n polariseerder gebruik word, kan dit die lug swart maak. Filmtipes wat die effek van infrarooifilm naboots (soos Ilford se SFX 200), doen dit deur baie meer sensitief te wees vir rooi as die ander kleure.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search