KV62

KV62
Die grafkelder van Toetankamen
Die muurversiering in KV62 se grafkamer is eenvoudig in vergelyking met dié van ander grafte in die vallei.
Die muurversiering in KV62 se grafkamer is eenvoudig in vergelyking met dié van ander grafte in die vallei.
Ligging Vallei van die Konings
Land Vlag van Egipte Egipte
Ontdek 4 November 1922
Uitgrawings deur Howard Carter
Versiering Mondopeningseremonie
Amdoeat
Uitleg Gebuig na regs
← Vorige
KV61
Volgende →
KV63

KV62, ook bekend as die grafkelder van Toetankamen, in die Vallei van die Konings by Thebe, naby die moderne stad Luxor in Egipte, was die grafkelder van farao Toetankamen van die 18de Dinastie.

Die grafkelder bestaan uit vier kamers en 'n ingangstrap en -gang. Dit is kleiner en is minder uitvoerig versier as ander koninklike Egiptiese grafkelders uit dié tyd; dit was moontlik aanvanklik die graf van 'n niekoninklike wat vir Toetankamen aangepas is ná sy voortydige dood. Nes ander farao's is hy begrawe met 'n groot verskeidenheid begrafnisvoorwerpe en persoonlike besittings, soos doodskiste, meubels, klere en juwele. In dié ongewoon klein ruimte was alles egter dig opmekaar gepak.

Die teken by die ingang na Toetankamen se grafkelder, in Arabies en Engels.

Rowers het in die tyd net ná sy dood twee keer by die grafkelder ingebreek, maar Toetankamen se mummie en die meeste van die begrafnisvoorwerpe het ongeskonde gebly. Die lae ligging van die graf in die vallei se vloer het daartoe gelei dat die ingang onder 'n hoop puin begrawe was wat deur vloedwater daarheen gespoel is en onder oorblyfsels van die bouwerk. Anders as die meeste ander grafte in die vallei, is dit dus nie in die Derde Oorgangstydperk (omstreeks 1070-664 v.C.) van sy waardevolle inhoud gestroop nie.

Die grafkelder is in 1922 deur uitgrawers onder leiding van Howard Carter ontddek. Dansky die gehalte en eksotiese voorkoms van die begrafnisvoorwerpe het die ontdekking 'n opskudding in die media veroorsaak en die beroemdste vonds in die geskiedenis van Egiptologie geword. Die dood van Carter se beskermheer, lord Carnarvon, te midde van die uitgrawings het gelei tot gissings dat die grafkelder vervloek is. Die ontdekking het die minimum insig verskaf oor Toetankamen se bewind en die Amarnatydperk wat dit voorafgegaan het, maar dit het kennis verbreed oor die materiële kultuur van ryk antieke Egiptenare sowel as patrone van antieke grafrowery. Toetankamen het een van die beroemdste farao's geword en sommige artefakte uit sy grafkelder, soos sy goue dodemasker, is van die bekendste kunswerke van antieke Egipte.

Die grootste deel van die inhoud is na die Egiptiese Museum in Kaïro gestuur en is nou in die Groot Egiptiese Museum in Giza. Toetankamen se mummie en sarkofaag word egter steeds in die grafkelder uitgestal. Vloede en swaar toeristeverkeer het die grafkelder sedert sy ontdekking beskadig, en 'n replika van die grafkelder is daarnaby opgerig om die druk van toeristebesoeke op die oorspronklike grafkelder te verminder.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search