Klinker

'n Klinker, ook vokaal genoem, is 'n klank in gesproke taal, soos die Afrikaanse a [ɑː] of ou [ɵŭ], wat met 'n oop spraakkanaal uitgespreek word sodat daar nêrens bo die glottis lugdruk opgebou word nie.[1] Lug beweeg dus ongehinderd deur die spraakkanaal by die mond uit sonder merkbare ruis- knal- of plofgeluide. Dit staan in teenstelling met konsonante, soos sj [ʃ] waar 'n versperring of sluiting in die spraakkanaal voorkom. Klinkers is normaalweg stemhebbend maar wanneer gefluister word vibreer die stembande nie en word klinkers stemloos uitgespreek.[1]

Verskillende klinkers word van mekaar onderskei deur die presiese vorm en volume van die mond- en neusholte. Eersgenoemde word grootliks deur die posisie van die tong en lippe bepaal.[1] Die beperkings van die mondholte en die manier waarop die tong gemanipuleer word beteken dat daar drie ekstreme posisies is wat tot klinkerklanke kan lei. As die tongliggaam vorentoe en tot byna teen die verhemelte gestoot word, word die [i] geproduseer. As die tongliggaam laer geplaas word terwyl die agterkant van die tong na die verhemelte gestoot word, word die [u] klank gevorm. Ten slotte, as die liggaam en die agterkant van die tong beide weg van die verhemelte geplaas word en die gebied tussen die larinks en die mond (die "farinks"), venou word, word die klank [ɑ] geproduseer.[2]

'n Klinker word ook as lettergrepig beskou wat dit onderskei van oop maar nie lettergrepige klanke wat as halfklinkers beskou word. Klinkers vorm in die meeste tale (insluitende Afrikaans) die hart van elke lettergreep, meesal omring deur een of meer medeklinkers. Anders gestel: klinkers is altyd sillabies, dit wil sê dat hulle selfstandig (of voorsien van 'n sogenaamde aanvang en/of koda van konsonantiese foneme) 'n lettergreep kan vorm. Sommige tale laat egter wel lettergrepe sonder klinkers toe waar ander klanke dan die lettergreepkern vorm soos die r in Serwies vrt [vr̩t] "tuin".

Die letters a, e, i, o, u en y word eweneens klinkers genoem, maar dié letters se klank hang af van die letters wat dit omring. Om verwarring te voorkom sal ons in die vervolg van hierdie artikel konsekwent 'klinker' noem waar ons die klank bedoel. Die versameling klinkers in Afrikaans is sterk afhanklik van die dialek. Wanneer ons praat van 'die' Afrikaanse klinkers, dan bedoel ons gemakshalwe Standaardafrikaans se klinkers.

Diftonge is klinkers waar die vorm van die spraakkanaal tydens die uitspreek van die klank aangepas word. Dit staan in teenstelling met suiwer klinkers met 'n vaste spraakkanaalvorm en tong posisie.[1]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 Barry Truax, redeakteur, HANDBOOK FOR ACOUSTIC ECOLOGY, VOWEL Geargiveer 17 April 2009 op Wayback Machine, Tweede Uitgawe, 1999, besoek op 22 Maart 2009
  2. Michael Gasser, "How Language Works (edition 3.0) Geargiveer 4 April 2009 op Wayback Machine, Vowels Geargiveer 12 Maart 2009 op Wayback Machine, besoek op 22 Maart 2009

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search