Kundigheidsverlies

Albert Einstein het na die V.S.A. geëmigreer om van Nazi-vervolging te ontsnap, 'n voorbeeld van kundigheidsverlies as gevolg van politieke verandering.

Kundigheidsverlies, breinkwyn of breindrein (leenvertaling uit die Engels braindrain), verwys na die verskynsel waar hoogs opgeleide persone (soos akademici, gespesialiseerde kunstenaars, ondernemers en vakkundiges) uit 'n land (of dikwels ook interprovinsiaal of intraprovinsiaal binne 'n land) vertrek om elders 'n loopbaan te gaan soek. Kundigheidsverlies verwys meestal na die migrasie vanaf die randgebied na die "kern". So sal 'n dokter vanaf die landelike gebied na 'n stedelike gebied trek, van 'n onderontwikkelde provinsie na 'n meer verstedelikte gebied, of uitwyk van 'n ontwikkelende land na 'n ontwikkelde land. Die uitstroming van kundigheid uit die randgebied laat sodoende 'n kundigheidsleemte. Tog kan persone met meer ondernemingsgees ook 'n ontwikkelde land verlaat, bv. na 'n belastingparadys.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search