Napels

Napels
Napoli • Napule

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Italië Italië
 Administratiewe gewes Kampanië
 Koördinate 40°50′N 14°15′O / 40.833°N 14.250°O / 40.833; 14.250
 Stigting 8ste eeu v.C.
 Oppervlakte:  
 - Totaal 117,27 vk km
 Hoogte bo seevlak 17 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Julie 2018) 962 495
 - Bevolkingsdigtheid 8 207,5/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Burgemeester Gaetano Manfredi
 Amptelike webwerf comune.napoli.it

Napels (Italiaans: Napoli, [ˈnaːpoli], ; Napolitaans: Napule, [ˈnaːpələ]; Latyn: Neapolis; Ou-Grieks: Νεάπολις, letterlik: "nuwe stad") is die grootste en welvarendste stad in die suide van Italië (die Mezzogiorno d'Italia of "Middag van Italië"), geleë teen die noordelike oewer van die Golf van Napels tussen die vulkaniese gebied van die Campi Flegrei in die weste en die vulkaan Vesuvius in die ooste. Napels dien as die administratiewe setel van die streek Kampanië en die provinsie Napels.

'n Smal straatjie in een van Napels se ou buurte
Buite die stad sluimer nie net die vulkaan Vesuvius nie, maar ook Europa se supervulkaan – die Campi Flegrei (die foto wys die vulkaan Solfatara)

Napels en sy omgewing vorm een van die grootste verstedelikte gebiede in Italië, met 'n bevolking van 962 495[1] (soos op 31 Julie 2018). Dit het 'n groter metropolitaanse bevolking van ongeveer 3 085 447 wat van Napels die derde grootste Italiaanse metropool maak – na Rome en Milaan. Die inwoners van die stad staan bekend as Napolitane, napoletani of meer poëties partenopei in Italiaans.

Napels besit 'n indrukwekkende ryk geskiedenis, kuns en kultuur en het selfs 'n eie taaldialek, Napolitaans [Napulitano], wat soveel afwyk van Standaarditaliaans dat sommige taalkundiges dit as 'n taal in eie reg beskou. Napels word deur sy ligging, grootte en atmosfeer beskou as die argetipiese weerspieëling van die lewe in suide van "il bel paese" (die mooi land).

Napels is ook bekend vir sy bydrae aan die kulinêre wêreld. Die eerste pizza kom immers na bewering uit Napels en het ontstaan as verassingshappie vir die toenmalige vrou van die koning, die gelyknamige Margherita. Of miskien kan Napels tot die verbeelding spreek omdat een van die wêreld se mees beroemde vroue, Sophia Loren (gebore Sofia Villani Scicolone), in die krotwyke van die nabygeleë Pozzuoli grootgeword het.

  1. (it) "demo.istat.it – Bilancio demografico anno 2018 – Luglio (dati provvisori) Provincia: Napoli. Besoek op 25 November 2018". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 November 2018. Besoek op 25 November 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search