Mikroskoop

'n Ou ligmikroskoop
'n Elektronmikroskoop

Die mikroskoop is 'n instrument met vergrotingslense wat kleiner voorwerpe sodanig vergroot dat dit wat nie met die oog gesien kan word nie, mikroskopies besigtig kan word. 'n Mikroskoop is 'n optiese instrument met behulp waarvan aansienlik vergrote beelde van baie klein voorwerpe verkry kan word, wat die ondersoek van sulke voorwerpe moontlik maak of vergemaklik (Grieks: mikras = "klein" en skopein = "ondersoek").

Daar is verskeie tipes mikroskope:

  • Ligmikroskoop
  • Oordragelektronmikroskoop
  • Skandeerelektronmikroskoop

Wie die mikroskoop uigevind het, en wanneer die uitvinding plaasgevind het, is ongelukkig onbekend. Dit is wel bekend dat dit die werk van 'n Nederlander was. Miskien was dit Zacharias Janszoon of sy seun Hans, twee brilmakers in die Nederlandse stad Middelburg. Of dalk was dit Hans Lippershey, 'n ander beroemde Nederlandse lens- en brilmaker.

Nog bespiegelinge is dat dit moontlik dieselfde persoon was wat ook die eerste teleskoop gebou het. Of dat die uitvinding van die teleskoop tot die uitvinding van die mikroskoop gelei het.

Die berigte oor die eerste teleskope en mikroskope is ongelukkig so onvolledig dat die ware verhaal oor die ontstaan van die twee instrumente onbekend is. Al sekerheid is dat albei in Nederland ontstaan het, waarskynlik tussen 1590 en 1610.

Die algemeenste tipe is die optiese mikroskoop, waarby 'n ligbron en 'n lensstelsel gebruik word om 'n vergrote beeld te verkry. Die maksimumvergroting wat hiermee moontlik is, is nagenoeg 1000 maal. In plaas van lig kan 'n mens ook straling van baie korter golflengtes as ondersoekmiddel gebruik. Die vergroting wat verkry kan word, is dan teoreties hoër. Jare lank was daar egter geen lense bekend wat vir sulke straling geskik was nie. Die oplossing vir die probleem is gevind in die gebruik van elektronbundels waarby elektriese en magnetiese velde as "lense" kan dien. Op hierdie manier is die elektronmikroskoop en sy skouspelagtige jonger broer, die aftastingsmikroskoop, ontwikkel.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search