Olifant

Olifant
Tydperk: Plioseen–Onlangs
'n Savanne-olifant naby die grens van die Serengeti- en Ngorongoro-bewaringsgebied in Tanzanië
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Subfilum:
Klas:
Orde:
Superfamilie:
Familie:
Elephantidae

Gray, 1821
Genera
Verspreiding van die Afrika-olifant
Verspreiding van die Asiatiese olifant

Die olifant (Elephantidae) is 'n familie van groot soogdiere wat aan die orde van slurpdiere behoort. Die familie omvat twee lewende genera wat drie lewende spesies bevat: die savanne-olifant (Loxodonta africana) wat in Sub-Sahara Afrika voorkom, die Afrika-woudolifant (Loxodonta cyclotis) van Wes- en Sentraal-Afrika en die Asiatiese olifant (Elephas maximus) wat in Indië en Suidoos-Asië voorkom.

Olifante is die enigste oorlewende slurpdiere van die huidige tydperk. Die reusagtige behaarde mammoete en mastodonte het reeds uitgesterf. Die soogdier wat in ons era die nouste (nog steeds slegs verlangs) aan die slurpdiere verwant is, is die dassie.

Met 'n maksimum gewig van 7 500 kg (Afrikaanse olifant) is olifante die grootste lewende landdiere. Daar is vandag nog twee lewende spesies, naamlik die Afrikaanse en die Asiatiese olifant. Die Asiatiese olifant is onder meer kleiner as die Afrikaanse olifant en sy ore is ook relatief klein.

Die neus en bolip van albei spesies is uitgegroei tot 'n slurp, waarmee die diere kan voel, ruik, gryp, suig en trompetter. Olifante beweeg in troppe, wat normaalweg uit verskeie familie-eenhede bestaan en deur koeie gelei word. In Asië word die Asiatiese olifante gebruik om swaar arbeid te verrig, terwyl veral die Afrikaanse olifant gejag word vir die ivoor van sy slagtande.

Daar bestaan vandag veral in Afrika ʼn geweldige konflik tussen die olifant en die mens, en as uitroeiing teen die huidige tempo voortgaan, loop hierdie diere gevaar om uit te sterf. Die Afrikaanse en die Asiatiese olifant is die laaste twee oorlewende spesies van die slurpdiere (orde Proboscidea), 'n soogdiergroep waarvan ongeveer 300 uitgestorwe spesies bekend is.

Die oudste fossiele dateer uit die Eoseen (ongeveer 50 miljoen jaar gelede). Die eerste bekende egte olifant (familie Elephantidae) was die Moeritherium, 'n klein dier wat ongeveer 60 cm hoog was en tydens die Ystydperke van die Eoseen in Egipte voorgekom het. Die lede van die familie wat die laaste uitgesterf het, was die mastodons (genus Mastodon) en die mammoete (genus Mammuthus), wat tot in die Steentyd geleef het. Die grootste mammoet (Mammuthus imperator) was ongeveer 4,5 m hoog (by die skouer) en het in Noord-Amerika voorgekom.

Die bekendste soort was die wollerige mammoet (Mammuthus primigenius), wat ongeveer 10 000 jaar gelede in Siberië voorgekom het. Die Paleolitiese mens het op die mammoete jag gemaak en talle rotstekeninge van hulle nagelaat. Van hierdie mammoete het in gletserys vasgevries en duisende jare lank bewaar gebly sodat wetenskaplikes hulle kon ontleed en selfs die voedsel in hul mae kon herken.

Die naaste lewende verwante van die olifante is die dassies (orde Hyracoidea) en die lamantyne (orde Sirenia). Hoewel hierdie diere vandag glad nie soos olifante lyk nie, stam hulle asook olifante van dieselfde voorouers af en is daar nog sekere ooreenkomste, byvoorbeeld die kruising van die bene van die voorpote en die afgeplatte bene onder die polsgewrigte.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search