Olimpiese Somerspele 1996

Spele van die XXVIe Olimpiade
Olimpiesespele van 1996

Gehou in Atlanta, Verenigde State
Deelnemende lande 197 Nasionale Olimpiese Komitees
Deelnemende atlete 10 318 (6 806 mans, 3 512 vroue)[1]
Items 271 in 26 sporte[2]
Openingseremonie 19 Julie 1996
Sluitingseremonie 4 Augustus 1996
Amptelik geopen deur President Bill Clinton[3]
Atlete-eed Teresa Edwards (basketbal)
Beampte-eed Hobie Billingsly (sierduik)
Olimpiese vlam Muhammad Ali (boks)
Vorige Spele 1992: Barcelona (Spanje)
Volgende Spele 2000: Sydney (Australië)

Die Olimpiese Somerspele 1996 (Engels: 1996 Summer Olympics), amptelik bekend as die Spele van die XXVIste Olimpiade, is tussen 19 Julie en 4 Augustus 1996 in Atlanta, Verenigde State, aangebied. Hierdie spele staan ook bekend as die Centennial Games vanweë die feit dat dit presies een eeu na die eerste moderne Spele in Griekeland plaasgevind het.

Die Olimpiese Stadion Atlanta tydens die Olimpiese Somerspele 1996

Atlanta is op 18 September 1990 deur die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) gekies met 51 teen 35 stemme in die laaste ronde. Die beslissing van die Internasionale Olimpiese Komitee om die Spele aan Atlanta toe te wys was verrassend. Die redenasie was dat Athene nie genoeg tyd sou hê om die infrastruktuur vir die Spele in plek te kry nie. Later word beweer dat enkele IOK-lede omgekoop was, maar dit kon nooit bewys word nie. Tydens en na die Spele word egter vasgestel dat die organiserende komitee van Atlanta nie die volle waarheid oor die vervoernetwerk, die hitte en die vogtigheid in Augustus, en oor die hoë misdaadsyfer van die stad vertel het nie.

Die opening- en sluitingseremonies het in die Olimpiese Stadion van Atlanta plaasgevind. Soos gebruiklik het die lande in alfabetiese volgorde die stadion ingestap met Griekeland die eerste en die gasheer die Verenigde State die laaste, maar aangesien die plaaslike taal Engels is, is dié taal se alfabet gebruik om die volgorde te bepaal. Masibulele Makepula, bokser en goudmedaljewenner tydens die Afrikaspele van 1995, het die Suid-Afrikaanse vlag ingedra.

Oor die algemeen word die Spele as minder suksesvol gesien. Die vervoer tussen die verskillende Olimpiese items het soms vir ure in verkeersknope vasgesit. Die Spele was ook deur vele as "te kommersieel" bestempel, maar finansieel was dit wel 'n sukses. Dit is onder meer te danke aan die hoofborgskap van Coca-Cola, wie se hoofkantoor in Atlanta is.

Die Paralimpiese Somerspele 1996 is tussen 16 en 25 Augustus in Atlanta gehou.

  1. (en) "Factsheet – The Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. Desember 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2018. Besoek op 6 Maart 2018.
  2. (en) "Factsheet – The Programme of the Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. Oktober 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 22 April 2020. Besoek op 6 Maart 2018.
  3. (en) "Factsheet – Opening Ceremony of the Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. 11 Januarie 2018. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2018. Besoek op 6 Maart 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search