Reykjavik

Reykjavik


Europese Kultuurhoofstad 2000
Menningarborg Evrópu 2000


Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Ysland Ysland
 Administratiewe gewes Höfuðborgarsvæðið
 Koördinate 64°09′N 21°56′W / 64.150°N 21.933°W / 64.150; -21.933
 Stigting 1786
 Oppervlakte:  
 - Totaal 273 vk km
 Hoogte bo seevlak 0 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2023) 139 875
 - Bevolkingsdigtheid 510/vk km
 - Metropolitaanse gebied 247 590
 Tydsone UTC +0 (GMT)
 Klimaat  
 - Tipe Polêre seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 4,7 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 0,0 / 11,2 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslag 798,2 mm
 Burgemeester Einar Þorsteinsson
 Amptelike webwerf www.reykjavik.is

Reykjavik (Yslands: Reykjavík, [ˈreiːcaˌviːk], ; letterlik: "Rookbaai") is die hoofstad van Ysland – en ook die wêreld se mees noordelik geleë hoofstad: Sy breedtegraad lê teen 64° 09' Noord net effens suid van die Noordpoolsirkel (66° 33'). Die stad met 'n bevolking van naastenby 140 000 inwoners lê aan die voet van die bergpiek Esja met 'n hoogte van 900 meter en aan die suidoewer van die Faxaflóibaai, wat deel uitmaak van die Atlantiese Oseaan, en fungeer as die administratiewe, kulturele en ekonomiese spilpunt van Ysland. Reykjavik huisves die meeste departemente van die Universiteit van Ysland en verskeie ander tersiêre instellings, teaters, museums en ander kulturele instellings. Die stad beskik daarnaas oor Ysland se belangrikste seehawe.

'n Uitsig oor Reykjavik vanaf Hallgrímskirkja

Daar word aangeneem dat Reykjavik die plek van die eerste menslike nedersetting in Ysland is wat na historiese oorlewerings in 870 deur Ingólfur Arnarson gestig is. Voor die laat 18de eeu het daar in die gebied egter geen stedelike ontwikkeling plaasgevind nie. Die huidige stad het eers in 1786 as 'n amptelike handelspos ontstaan en het in die volgende dekades stadig gegroei om eers tot 'n gewestelike en later ook nasionale handelsentrum te ontwikkel.

Reykjavik vorm vandag die sentrum van Groter Reykjavik, 'n metropolitaanse gebied met 'n bevolking van meer as 200 000. Dit is die grootste stad van Ysland en huisves sowat 37,5 persent van die land se totale bevolking. Reykjavik se inwoners trek voordeel uit die stad se moderne infrastruktuur en Ysland se eersterangse welvaartstelsel. Reykjavik is saam met agt ander stede aangewys as die Europese Kultuurhoofstad van die jaar 2000.

As gevolg van sy ligging net suid van die Noordpoolsirkel kry Reykjavik gedurende midwinter slegs vier ure se daglig per dag, terwyl die nagte in midsomer byna so helder soos die dae bly.

Reykjavik se Yslandse naam verwys vermoedelik na die stoomwolke wat by die warmwaterbronne in die omgewing opstyg en gaan moontlik terug op 'n vergissing van die eerste setlaar, Ingólfur Arnarson.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search