Vroulike genitale verminking

Verskillende soorte vroulike genitale verminking
Uitvoering van vroulike besnyding in Afrika, soos gemeld deur afrol.com

Vroulike genitale verminking, ook vroulike besnyding, is 'n omstrede prosedure waartydens die vroulike geslagsdele (gewoonlik die klitoris) vir nie-mediese redes verwyder of beseer word. Die prosedure word vir tradisionele, kulturele en gelowige redes uitgevoer. In baie kulture word dit as 'n deurgangsrite beskou en word dit tussen die ouderdom van 0 en 15 uitgevoer.

Die prosedure word veral in Afrika uitgevoer, maar ook in die Midde-Ooste en, as gevolg van globalisering, het die gewoonte ook na die Weste uitgebrei. 'n Beraamde 100 tot 140 miljoen vroue dwarsoor die wêreld is besny, waarvan 92 miljoen in Afrika.

Genitale verminking is uiters pynlik, aangesien die geslagsdele die meeste senuweepunte bevat. Die omstandighede waarin dit uitgevoer word, stel miljoene meisies se lewens in gevaar, veral in Afrika. Dit word gewoonlik deur tradisionele besnyders in onhigiëniese omstandighede (dikwels sonder verdowing) uitgevoer, wat tot oormatige bloeding kan lei, asook tot probleme met urinering. Komplikasies kan later in 'n vrou se lewe ook tot probleme tydens haar bevalling of selfs die dood van haar baba lei.

Die omstredenheid van die prosedure berus op die feit dat dit geen gesondheidsvoordele inhou nie en dat die verminking of verwydering van 'n vrou se geslagsdele wêreldwyd as 'n skending van menseregte beskou word. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is dit 'n skending van kinderregte, 'n persoon se reg tot gesondheid, veiligheid en liggaamlike integriteit, die reg om nie gemartel of aan wrede, onmenslike of afbrekende behandeling onderwerp te word nie, asook die reg tot lewe, in die gevalle waar die prosedure in die dood eindig.

Dit word ook as diskriminerend en simbolies van die ongelykheid tussen mans en vroue gesien. Besnyde vroue kan nie seksuele bevrediging ervaar nie en haar lojaliteit aan haar man word so "gewaarborg".


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search