Witwatersrand

Landskap in die Witwatersrand Nasionale Botaniese Tuin, nou bekend as die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin
Witpoortjiewaterval in die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin.

Die Witwatersrand is 'n lae bergreeks wat deur die Gauteng provinsie in Suid-Afrika loop. Dit dien as 'n waterskeiding - water wat na die noordekant afloop dreineer in die Limpoporivier wat na die Indiese Oseaan vloei en water na die suide dreineer in die Vaalrivier wat na die Atlantiese Oseaan vloei. Dit kom ook na vore deur effense klimaatsveranderinge wat in die gebied voorkom - die heuwels veroorsaak 'n loefwaartse/lywaartse effek. Daardeur is Johannesburg se noordelike voorstede meer geil en vogtig, en in die suide is dit droër en meer waterarm. Die Witwatersrand is deel van die provinsie Gauteng, wat vir 'n kort tydperk die PWV-provinsie genoem is, 'n akroniem vir Pretoria, Witwatersrand en Vereeniging/Vaaldriehoek.

Die "Rand" (en in Engels ook "reef" genoem) is bekend daarvoor dat dit die bron is van 48 000 ton of 40% van alle goud wat al op aarde gemyn is. Daarnaas is ook uraan as 'n belangrike neweproduk ontgin. Ontginning van goud en ontwikkeling van die gebied het in die 1880's begin. Baie van die ou myne is reeds gesluit, maar goudontginning vind steeds in die gebied plaas. Die mineralerykdom van die Witwatersrand was daarvoor verantwoordelik dat die geldeenheid van Suid-Afrika na die Rand vernoem is.

Die Witwatersrand is ook 'n alternatiewe naam wat dikwels gebruik word vir die Groter Johannesburgse Metropolitaanse gebied. Dié gebied is langwerpig gevorm en strek oor ongeveer 100 km van Randfontein en Carletonville in die weste na Springs in die ooste. Dit sluit ook groot gebiede soos Soweto asook die Oos- en Wes-Rand in. Mynbou in die gebied trek voordeel uit die nabygeleë yster- en staalnywerhede na noord (Pretoria), suid (Vereeniging) en die steenkoolmynbou in Witbank na die ooste. Die beskikbaarheid van mannekrag en energie teen lae koste was onder meer voorvereistes vir die ontwikkeling van die mynbedryf.

Die enigste beperkings wat die mynbou en nywerhede aan die Witwatersrand opgelê word is die beperkte watervoorraade en die afstand na seehawens. Die belangrikste waterbronne is die Vaalrivier, mynwater wat uitgepomp word en damme.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search