Kriptografie

Kriptografie (vanuit Grieks kryptòs, "Weggesteek", en gràphein, "om te skryf") is tradisioneel, die studie van tegnieke om inligting vanaf die normale leesbare formaat na 'n formaat om te skakel wat vir ongewenste partye wat mag toegang verkry tot die kommunikasiekanaal, onverstaanbaar te maak. Verder word gepoog om dit so moeilik as moontlik te maak om te ontsyfer sonder die geheime kennis (sleutel) wat as invoer tot die ontsyferingsalgoritme dien. In die verlede is kriptografie ingespan om geheimhouding tydens strategies belangrike kommunikasie te verseker (tipies kommunikasie van spioene, militêre leiers, en diplomate).

In die laaste paar dekades van die 20ste eeu het die toepassing van kriptografie uitgebrei na die versekering van ander partye se identiteit soos met digitale handtekeninge en digitale kontant. Verder is kriptografie meer en meer ingespan om burgerlikes se privaatheid te beskerm. Dikwels is die tegnologie ingebou in die infrastruktuur vir rekenaar- en telekommunikasie en is die gebruikers nie eers bewus van die gebruik daarvan nie.

Kripto-analise is die studieveld wat hom bemoei met die metodes om kriptografie te ontsyfer. Kripto-analise en kriptografie word dikwels saam gegroepeer onder die omvattende term kriptologie wat dus al die fasette van die vakgebied beslaan. In praktyk word "kriptografie" egter ook gebruik wanneer daar na dié vakgebied in sy geheel verwys word.

Kriptografie is 'n interdissiplinêre vak wat ontleen uit vele ander studievelde. Voor die ontstaan van rekenaars was dit gewoonlik nou verbind met taalkunde. Deesdae het die klem na die tegniese aspekte van die wiskunde verskuif, veral getalleteorie, inligtingsteorie, berekende kompleksiteit, statistiek en diskrete wiskunde.

Verwante studievelde is steganografie — die studie van die verbloeming van die bestaan van 'n boodskap, waar daar gekonsentreer word op tegnieke om die bestaan van boodskappe te versteek eerder as om inhoud te verander (bv. microdots, of onsigbare ink — en verkeersanalise, wat die analise van kommunikasiepatrone, om geheime inligting te ontsyfer, behels.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search