Pompeii

Argeologiese terreine van Pompeii, Herculaneum en Torre Annunziata*
Unesco-wêrelderfenisterrein

'n Pompeiaanse straat
Ligging van Pompeii op 'n kaart (Italië)
Pompeii
Pompeii
Posisie van Pompeii in Italië
Koördinate: 40°45′02″N 14°29′23″O / 40.75056°N 14.48972°O / 40.75056; 14.48972Koördinate: 40°45′02″N 14°29′23″O / 40.75056°N 14.48972°O / 40.75056; 14.48972
Lande Vlag van Italië Italië
Tipe Kultureel
Kriteria iii, iv, v
Verwysings 829
Streek Europa
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie 1997  (21ste Sessie)
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.
Die vulkaanuitbarsting in 79 n.C.

Pompeii (in Afrikaans ook Pompeji gespel; Latyns: Pompeii; Italiaans: Pompei) was 'n antieke Romeinse hawestad aan die Golf van Napels in Kampanië wat net soos Herculaneum en Stabiae tydens die uitbarsting van die vulkaan Vesuvius onder vulkaniese rotse en as begrawe is. Dit was in die herfs van 79 n.C., in die tweede helfte van Oktober, tydens keiser Titus se bewind.[1]

In sy sewehonderdjarige geskiedenis is Pompeii agtereenvolgens deur Osci, Samniete, Grieke, Etruskers en Romeine bewoon wat almal hul spore hier gelaat het. Die resultate van mees onlangse navorsing dui daarop dat beide Pompeii en die nabygeleë Herculaneum oorspronklik as Etruskiese nedersettings gestig is.

'n Laag van vulkaniese as en rotse (sogenaamde lapilli), wat sowat ses meter diep is, het die ruïnestad tot sy herontdekking in die 18de eeu bedek toe dit die belangstelling van argeoloë en geskiedkundiges gewek het. As een van die bes bewaarde Romeinse ruïnestede gee Pompeii 'n goeie indruk van 'n 1ste eeuse Romeinse nedersetting en die destydse kultuur en leefstyl. Ook sy ekonomiese struktuur kan bestudeer en besigtig word. Die belangrikste aktiwiteit was die vervaardiging van garum (ook liquamen genoem), die gewilde Romeinse vissous en spesery waarvoor blouvis gepekel is, deur 'n aantal ondernemings. Garum was alomteenwoordig in die Romeinse kookkuns (soos sojasous in die moderne Asiatiese kookkuns) en is - nie noodwendig volgens die huidige smaak en eetgewoontes nie - ook by soet disse gevoeg.

Van besondere belang vir argeoloë is die opeenvolging van verskillende boustyle en die gebruik van 'n verskeidenheid boumateriale. Alhoewel Pompeii se stadsuitleg en padnetwerk die klassieke Romeinse model met Cardines en Decumani volg, is daar ook belangrike elemente van voor-Romeinse Italiese boukuns en stadsbeplanning. Die historiese woonbuurte is deur 'n stadsmuur met ses poorte omring. Vir argeologiese doeleindes en besigtiging deur toeriste is die antieke Pompeii in nege regioni of streke onderverdeel - straatblokke wat deur die historiese hoofstrate begrens word.

Die Argeologiese terreine van Pompeii, Herculaneum en Torre Annunziata is in 1997 deur Unesco as wêrelderfenisgebiede gelys.

  1. The Guardian, 16 Oktober 2018: Archaeological find changes date of Pompeii's destruction. Besoek op 7 Julie 2019

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search