Suidelike Oseaan

Die Aarde se vyf Oseane
Die Suidelike Oseaan

Die Suidelike Oseaan, Suidelike Yssee of Antarktiese Oseaan is die watermassa wat volgens sommige geografiese en meeste hidrografiese bronne die kontinent van Antarktika omring. Dit is vierde grootste oseaan ter wêreld en die jongste om gedefinieer te word nadat dit in 2000 in 'n besluit van die Internasionale Hidrografiese Organisasie (IHO) aanvaar is. Die term is egter reeds lankal in gebruik onder seevaarders. Die verandering weerspieël die onlangse bevindinge in oseanografie oor die belangrikheid van seestrome.

Agt-en-twintig van die 68 lidlande het op die IHO se opname in 2000 oor die saak gereageer en met die uitsondering van Argentinië het almal ingestem om 'n nuwe oseaan te definieer. Agttien het vir die naam Suidelike Oseaan gestem en daarmee die ander gunsteling Antarktiese Oseaan verslaan. Veertien stemme was ten gunste daarvan om die Oseaan se grens op die 60 grade suid breedtegraad te plaas, die ander veertien stemme was vir ander definisies sover noord as 35 grade suid, die ekwivalente breedtegraad in die suidelike halfrond as die van die Middellandse See in die noordelike halfrond.

Ander bronne soos die National Geographic Society dui steeds aan dat die Atlantiese, Stille en Indiese Oseane tot by Antarktika strek.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search