Rekenaardrukker

'n Lexmark multifunksionele drukker.

'n Rekenaardrukker of meer algemeen na verwys as 'n drukker is 'n toestel wat 'n harde kopie skep (permanente menslik leesbare teks en/of grafika vanaf dokumente in elektroniese vorm gewoonlik op fisiese media soos papier of transparante). Baie drukkers word hoofsaaklik gebruik as randtoestelle vir rekenaars en word gewoonlik direk aan die rekenaar verbind en dien as bron vir gedrukte dokumente vir die gebruiker daarvan. Ander drukkers bekend as netwerkdrukkers het 'n ingeboude netwerk-koppelvlak (tipies 'n Ethernet netwerk) en kan dien as 'n bron van gedrukte dokumente vir al die gebruikers wat aan die netwerk verbind is. Verder kan baie moderne drukkers direk verbind word met elektroniese media soos geheuestokkies of geheuekaarte of aan beeldopname toerusting soos digitale kameras en skandeerders, terwyl ander drukkers gekombineer word met 'n skandeerders en/of 'n faksmasjien om 'n enkele eenheid te vorm. 'n Drukker wat met 'n skandeerder gekoppel is kan dan ook as 'n fotokopieërder dien.

Drukkers wat ontwerp word vir lae volume, korte duur drukwerk; vereis bykans geen opsteltyd vir die maak van 'n gedrukte kopie van 'n gegewe dokument nie. Drukkers is egter oor die algemeen stadige toestelle (10 bladsye per minuut word as vinnig beskou; en baie drukkers vir die gewone gebruiker is selfs baie stadiger as dit) en die koste per bladsy is relatief hoog. In teenstelling daarmee word 'n tipiese drukpers (wat dieselfde funksie dien) ontwerp en geoptimiseer om hoë volume drukwerk soos koerante te doen en is in staat om honderde bladsye per minuut te druk en die drukkoste per eksemplaar is gewoonlik maar 'n fraksie van 'n gewone rekenaardrukker. Die drukpers bly dus daarom die mees geskikte masjien vir hoë volume, professionele drukwerk. Rekenaardrukkers se kwaliteit het egter die afgelope paar jaar met rasse skrede verbeter en word baie drukwerk deesdae op lokale drukkers gedoen wat voorheen slegs deur professionele drukkerye gedoen is.

Die wêreld se eerste rekenaardrukker was 'n negentiende eeuse meganiesaangedrewe toestel wat deur Charles Babbage ontwerp is vir sy Difference Engine.

'n Epson inkstraaldrukker

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search